Ons Geskiedenis...

Ds JW Odendaal het, tydens sy bediening op Cornelia, begin om sedert 1930 dienste op Standerton te hou. Op 31 Januarie 1931 het die groep op Standerton ’n versoek tot Cornelia se Gemeente gerig dat ’n lekeprediker, Frans Rossouw, gereeld vir hul dienste verantwoordelik moes wees. Belangstelling het so toegeneem dat hulle in 1933 die Gemeente op Cornelia gevra het om hulle te help met die oprigting van aanbiddingsfasiliteite. In Junie 1934 is besluit om ’n erf in die Meyerville-woongebied teen ’n bedrag van R40,00 aan te koop. Toestemming is ook verleen dat Ds JD Odendaal een maal per maand ’n diens in die eetsaal van die Stadsaal kon hou. Hierdie reëling is gehandhaaf tot aan die einde van 1945 toe Ds JJ van der Westhuizen deur die Gemeente van Cornelia versoek is om vir ’n proeftyd van ’n jaar die pastorale verantwoordelikhede van die werk waar te neem. Met hierdie reëling het die werk te Standerton “takgemeentestatus” in 1946 verkry.

Volle Gemeentelike status is met die Afrikaanse Baptiste Kerk se Algemene Jaarvergadering in April 1947 verkry. Onder Ds van der Westhuizen se bediening het daar ook ’n “takgemeente” in Ermelo vanuit die Gemeente in Standerton ontstaan. In 1949 is hy na Ermelo Gemeente beroep en Ds FJ Lötz het hom in Standerton opgevolg vir ’n bediening van drie jaar. Ds JP Venter het hom in 1953 opgevolg en tydens sy bediening is die huidige Gemeenteperseel bekom en het hy, met die hulp van lidmate, eiehandig ’n nuwe kerk vir die Gemeente gebou. Hierdie gebou is op 7 Februarie 1959 ingewy. Daarna is ’n Pastorie op die kerkperseel gebou.

Hierna het die volgende kort bedienings gevolg: Ds W Pieters (1961-1963), Ds JWS Odendaal (slegs ’n paar maande), Ds PJ Kruger (ongeveer ’n jaar), Ds JHG Raubenheimer (1965-1968), Ds MP van Staden (1968-1972), en Ds DJ Raubenheimer (1973-1976).

Op versoek van die Gemeente, het Ds JHG Raubenheimer die Gemeente weer in 1977 vir ’n paar maande kom bedien. Hierna was die Gemeente vir ’n geruime tyd vakant en was daar selfs sprake om die Gemeente te ontbind. In 1984 het die Gemeente egter besluit om vir Ds Anton Jordaan te beroep, wat die Gemeente tot 1988 bedien het. Na ’n paar maande sonder leraar is Ds Corrie J du Rand in 1989 beroep. Tydens sy bediening het die Gemeente in 1990 die projek aangepak om ’n Kerksaal kontant te bou, ’n projek wat in 1994 voltooi is!

In 1996 beroep die Gemeente vir Ds Etienne C Rossouw. Hy pluk die vrug van diegene wat voor hom gearbei het, en die Gemeente beleef soveel vooruitgang dat die Kerkgeboutjie te klein geword het vir eredienste, en moes daar in 1997 na die Saal oorgeskuif word. Sedert Augustus 2004 moes daar met ’n tweede oggenddiens begin word om die groeiende aantal mense te akkommodeer, en sedert 2009 word Eredienste nou in Standerton Laerskool se Saal gehou - totdat die Gemeente se bestaande fasiliteite voldoende uitgebrei is.

Die Gemeente het sedert 1997 ’n amptelike Gemeentekantoor wat deur voltydse personeel beman word. In Desember 1999 beroep die Gemeente ook vir Ds Ian R Stuart om die spesialiteitsbediening aan Kinders, Tieners en Jongmense in die Gemeente en die gemeenskap te behartig. Aan die einde van 2002 het hy ’n beroep as Senior Leraar na ’n Gemeente in Pretoria-Noord aanvaar.

Ds Ricus van der Hoven sluit aan die einde van 2003, as Studente Leraar, by ons aan terwyl hy sy Teologiese graad deeltyds in 2004 voltooi. Hy hanteer sedertdien die Kinder-, Jeug- en Musiekbediening in die Gemeente en lewer 'n geweldige positiewe bydrae by al die Skole in ons gemeenskap.

In 2005 neem die Gemeente 'n verdere geloofstap om twee voornemende leraars vir die bediening te laat toerus. Andrew Matsi, 'n voormalige bestuurder by 'n groot industrie in Standerton, het sedertdien sy B Th Graad aan Christ Seminary te Polokwane, ('n sateliet-kampus van Dr John MacArthur) suksesvol voltooi en hanteer sedert 2010 die Gemeente se Zoeloe-bedieninge. Eredienste in Zoeloe vind Sondae in die Standerton Primary School se Saal plaas.

Die Gemeente is tans besig om haarself te herposisioneer in die Kerklike Gemeenskap om as 'n Missionêre Gemeeskaps-gemeente 'n toonaangewende rol op die platteland te speel. Die doel is steeds om getrou te bly in die kompromielose uitvoering van die Groot Gebod en die Groot Opdrag op 'n wyse wat beide kultuur-relevant en teologies gefundeerd is. Gevolglik kan ons Gemeente beskryf word as 'n Reformerende Missionêre Gemeenskaps-Gemeente onder die sambreel van die Baptiste-familie.